Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 25 JANUARIE 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met diep leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutels van drie radioamateurs dié week stil geword het.

Die sleutel van Gerry Capper, ZS6GM, het aan die begin van die week stil geword.

Die sleutel van Alfred Staegemann, ZS6ATN, het op Woensdag 21 Januarie 2009 stil geword. Alfred was een van die stigterslede van die Kemptonpark Amateurradioklub.

Die sleutel van Stan Zway, ZS6SDZ, het op 23 Januarie stil geword. Hy was vir baie jare lid van die Liga en die Pretoria Amateurradioklub. Hoewel hy byna lewenslank gestrem was, was hy altyd blymoedig, ’n wonderlike vriend van die amateurgemeenskap en ’n geesdriftige restoureerder van bootankers. Hy laat sy eggenote Lorraine, kinders, kleinkinders, agterkleinkiders en vriende na.

Ons betuig ons innigste meegevoel aan die familie en vriende van die afgestorwe radioamateurs.

POUSE

In die nuus vandag:

PRESIDENTSNET VANAAND OM 19:30

BACAR-LANSERING BEPLAN VIR 21 MAART 2009

SARL NASIONALE KONVENSIEPROGRAM NEEM VORM AAN

ZS8T OP LUG WEES SOOS TYD DIT TOELAAT

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

PRESIDENTSNET VANAAND OM 19:30

Sluit vanaand, Sondag 25 Januarie, om 19:30 by die Presidentsnet aan. Op die spyskaart is die jongste nuus oor regulatoriese sake, Kraglyntelekommunikasie, die SARL se Nasionale Konvensie en ‘n uitnodiging aan klubs om ‘n SARL Openbare Inligtingsbeampte aan te stel en deel te word van die SARL Openbare Inligtingsbeampte-netwerk.

PIC-PROGRAMMERINGSKURSUS IN DURBAN VOL BESPREEK

Die PIC-programmeringskursus in Durban is nou vol bespreek en geen verdere inskrywings word aanvaar nie. Daar is nog plek op die kursusse in Kaapstad en Gauteng. Besoek asseblief die Radio Tegnologie in Aksie-bladsye op www.sarl.org.za vir inligting oor die kursus en aanwysings vir inskrywing. Om by die RTA-bladsye uit te kom, kies ‘Activities’ op die linkerkant van die tuisbladsy en klik op RTA.

BACAR-LANSERING BEPLAN VIR 21 MAART 2009

BACAR se lansering is geskeduleer vir Saterdag 21 Maart tussen 07:00 en 07:30 SAT vanaf die Irene-weerstasie. Hoewel al die toerusting vir die lansering reg is, het ‘n ontleding van die totale gewig en die beskikbaarheid van ballonne en heliumgas vertragings veroorsaak. Die loonvrag sluit in ‘n HF-baken op 7023 kHz, ‘n 2-m-baken en ‘n APRS-stelsel. Die BACAR-span is besig om die loonvrag te herverpak om die gewig minder te maak.

‘n Opsporings- en beheerstasie sal vanaf die Nasionale Amateurradiosentrum in werking wees en radioamateurs word benodig om die roete van BACAR te karteer asook om verslae van stasies regoor die land te koördineer. Om by die BACAR-span aan te sluit, stuur ‘n e-pos aan saamsat@intekom.co.za om te verseker dat u gereeld die jongste inligting oor die projek ontvang.

Koste is ook ‘n bydraende faktor. Die beraamde koste van die ballonne en gas is omtrent R5000. Verlede jaar het SA AMSAT ‘n BACAR-fonds gestig met net meer as R200 in die bank. Borgskappe vir hierdie eerste vlug in baie jare word gevra. Jou donasie aan die projek sal waardeer word. Donasies can gemaak word aan SA AMSAT by ABSA Bank, taknommer 632 005 en rekeningnommer 560 153 171.

Besoek www.amsatsa.org.za vir meer inligting.


SARL SE NASIONALE KONVENSIEPROGRAM NEEM VORM AAN

Die program vir die SARL se Nasionale Konvensie wat in die Wes-Kaap gehou word oor die naweek van 24 tot 26 April 2009, is besig om vorm aan te neem met funksies van Vrydag tot Sondag. Die gasspreker tydens die jaarlikse toekenningsdinee sal dr Sias Mostert wees. Dr Mostert is bekend vir sy werk op SunSat en SumbandilaSat. Die Algemene Jaarvergadering vind Saterdagoggend by die Oakdaleklub in Bellville plaas.

Mosies en besprekingspunte vir insluiting in die agenda moet die sekretaris laatsens 31 Januarie bereik. Stuur die inligting aan secretary@sarl.org.za.

‘n Volledige konvensieprogram en registrasie-inligting sal gedurende die volgende twee weke op die SARL-webtuiste gepos word. Bly ingeskakel by SARLNuus vir gereelde opdatering, maar maak intussen ‘n aantekening van die datums 24 tot 26 April, die begin van die groen seisoen in die Kaap en ‘n goeie tyd vir ‘n vakansie-wegbreek voor of na die konvensie.

HAMNET BYDERHAND NA NOODSEIN VANAF SEILJAG

Toe die SARL Donderdagmiddag deur die Amerikaanse kuswag gekontak is oor ‘n noodsein vanaf die Queequeg II, het Hamnet dadelik vir Alistair Campbell, ZS5MU, wat ‘n daaglikse maritieme mobiele net bedryf, gekontak om te hoor of hy enige inligting ontvang het. Die bedieners van die maritieme mobiele net het nie van die seiljag geweet nie. Alistair het die kuswag op Réunion gekontak en hulle het onmiddellik met ‘n soek-en-reddingsaksie begin.

Die nuutste inligting vanaf MRCC is dat die omgeslane seiljag gevind is. Een oorlewende is Vrydag deur ‘n handelsvaartuig opgepik. Twee ander mans is blykbaar oorboord sonder reddingsbaadjies.

ZS8T OP LUG SOOS TYD DIT TOELAAT

In ‘n onderhoud met Amateur Radio Mirror Internasionaal, het Petrus Kritzinger, ZS8T, gesê dat sy stywe werklading hom min tyd gun om op die lug te kom. Hy het ook antennaprobleme gehad weens die sterk winde en algemene swak weersomstandighede. Hy het wel kans gekry om die Stepper vertikale antenna op te rig en ‘n paar toetskontakte gemaak met stasies in Suid-Afrika en Rusland. Luister vir hom op 20 meter. Hy hoop om aktief te wees soos wat sy werkskedule dit toelaat, hoofsaaklik op 20 meter. Luister na die onderhoud op www.sarl.org.za.

SARL BHF/UHF-KOMPETISIE

Lede van die Magalies Radioamateurklub en Pretoria ARK het koppe bymekaargesit oor die reëls vir die SARL BHF/UHF-kompetisie. Die nuwe reëls sal eersdaags in die SARL Kompetisiehandboek gepubliseer word. Baie dankie aan Johan, ZS6JPN, en sy komitee.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

15 en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15- en 20-m-openinge vanaf 12:00 SAT na Indië. 15-m-kontakte met Nieu-Seeland gaan vir 'n kort rukkie om 08:00 moontlik wees. Om 08:00 is daar moontlike 20-m-openinge na Australië. Kontakte met Peru is baie onwaarskynlik. Brasilië kan waarskynlik vanaf 18:00 op 20 m gewerk word. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike kort, swak 20-m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA se Ooskus is vanaf 18:00 moontlik op 15 m. 10 MHz lyk laatmiddag en na sonsonder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Selfs 20 m word ’n bietjie wakker voor oggendtee. Saans is 80 m die beste keuse. Met somer hier kan die donderstorms en statiese geraas ’n bietjie uitdagend wees.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou aangenaam kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

Ten slotte:

DAGBOEK VAN GEBEURE

25 Januarie, vanaand – Presidentsnet;
31 Januarie – Mosies en agenda-items vir die SARL 2009 AJV moet in wees;
Gedurende Januarie – Stuur nominasies vir SARL-toekennings in;
15 Februarie – sluitingsdatum vir inskrywings vir Tinus Lange-toekennings;
21 Februarie – PIC-kursus in Durban;
21 Maart – BACAR-lansering;
24-26 April – SARL Nasionale Konvensie, Kaapstad.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS5RO waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003